Bletchley Park is 'n Engelse herehuis en landgoed in Milton Keynes (Buckinghamshire) wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog die belangrikste sentrum van die Geallieerde kode-ontsyfering geword het. Die herehuis is vanaf 1883 gebou vir die finansierder en politikus Sir Herbert Leon in die Victoriaanse Gotiese-, Tudor- en Nederlandse barokstyl op die terrein van ouer geboue met dieselfde naam.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die landgoed die Government Code and Cypher School (GC&CS) gehuisves, wat gereeld die geheime kommunikasie van die spilmoondhede binnegedring het - veral die Duitse Enigma- en Lorenz-kodes; Alan Turing, Gordon Welchman, Hugh Alexander en Stuart Milner-Barry was die bekendste kodebrekers by die GC&CS. Die aard van die werk daar was tot baie jare na die oorlog geheim.
Volgens die amptelike historikus van Britse intelligensie het die 'Ultra' intelligensie wat by Bletchley geproduseer is, die oorlog met twee tot vier jaar verkort, en daarsonder sou die uitslag van die oorlog onseker gewees het.[1] Die span in Bletchley Park het outomatiese masjinerie bedink om te help met dekripsie, en het gelei tot die ontwikkeling van Colossus, die wêreld se eerste programmeerbare digitale elektroniese rekenaar. In 1946 is daar 'n einde aan die kodebreek operasies gemaak by Bletchley Park en al die inligting oor die oorlogsbedrywighede was tot in die middel van die sewentigerjare geklassifiseer.
Na die oorlog het die Poskantoor die terrein oorgeneem en dit as bestuurskool gebruik, maar teen 1990 word oorweging geskenk daaraan om die die hutte waarin die kodebrekers gewerk het, te sloop vir herontwikkeling. Die Bletchley Park Trust is in 1991 gestig om groot gedeeltes van die terrein van ontwikkelaars te red.
Meer onlangs was Bletchley Park oop vir die publiek en huisves interpretiewe uitstallings en herboude hutte soos dit tydens die oorlogstyd sou voorgekom het. Dit ontvang jaarliks honderde duisende besoekers.[2] Die afsonderlike National Museum of Computing, wat 'n werkende replika van die Bombe-masjien en 'n herboude Colossus-rekenaar insluit, word in Blok H op die terrein gehuisves.